 |
In sy vierde jaar van B.Sc. op Tuks ontdek hy 'n baskitaar en so begin 'n holderstebolder ontdekkingsreis vir liedjieskrywer-sanger Corné. Hy is een van daardie enigmas wat mense wat jare se musieklesse agter die blad het verstom. Na 'n enkele jaar se oorbruggingskursus slaag hy die oudisie vir die ligtemusiekkursus by Tswane University of Technology (destyds die Pretoria Technikon). Na slegs twee jaar van musikale studies word hy opgeraap deur Rocco de Villiers as baskitaarspeler vir Nataniël, 'n posisie wat hy nou nog beklee.
Sy verstommende musikaliteit het nie geëindig by uitsonderlike spel en die blitsige aanleer van nuwe instrumente nie, maar vinnig gelei tot komposisies van ligte tot kabaretliedere en selfs die openings- en bindingsmusiek van 'n televisiereeks. Siende dat hy duidelik 'n gawe vir skryf het en hy ook 'n opinie ontwikkel het oor baie sake (hoofsaaklik as gevolg van ouderdom!), besluit hy om sy eie liedjies te sing en so sy hart en lewe met alle Afrikaanssprekendes te deel.
Kom deel in sy reis. |
|